NOU ‘N NUWE LEWE

Die begin van ‘n nuwe lewe kyk na my.  Ek voel opgewonde, maar so ‘n bietjie bang.  Dit is ‘n onbekende wêreld wat ek nou moet betree.

Die huis is in die mark en ons hoop om darem so R1 000 000 uit te kry.  Dit is eintlik min, maar solank ek net kan weg kom en van voor begin.

Hy is nie baie in sy skik dat ek so haastig is nie, maar hoe langer dit sloer, hoe moeiliker is dit en hoe meer het hy kans om my selfbeeld die laaste rukkie nog verder af te breek.  Die kinders is HOOGS ombekof en blameer my vir alles.  As daar mense na die huis kom kyk dan word ek deur die kinders so vuil kyke gegee. 

Ek is moeg. Moeg van baklei, van vernederings en van altyd die minste te wees.  As die kinders by hom wil bly, sal ek nie in hulle pad staan nie.  Ek doen dit nie omdat ek nie vir hulle lief is nie en omdat ek ‘n slegte ma is nie, maar ek doen dit sodat hulle kan sien waardeur ek die afgelope tyd is.  Want dit sal nie lank wees nie, dan sal hulle agterkom wie en wat die “koning” pappa is.

Ek het alles vir hom gedoen die afgelope 24 jaar.  Van huis koop tot aanbou tot nou huis verkoop.  Hy het net nooit sy vinger gelig om iets te doen.  En ek is seker daarvan dat die meubel wa sal daar wees om my meubels op te laai, die nuwe mense sal al wil intrek, dan vra hy vir my waarnatoe moet hy gaan, want ek het nie gereel vir hom vir byplek nie.  Ek het die afgelope tyd agtergekom dat hy eintlik niks vir homself kan doen.  Toe ek terugkyk het ek besef dat elke keer as hy werkloos was, was dit ek wat vir hom werk gesoek het en ek wat vir hom onderhoude gereel het.  Ek moes met alles in die huis die leiding neem.  Dan het hy my beskuldig daarvan dat ek die “broek in die huis” wou dra, maar hy kon nie die broek dra, want hy het nie die ruggraat daarvoor nie.  Hy het nie eens in die tuin gewerk.  Daar was ‘n tuindiens wat dit gedoen het.  Buite uitvee en skoonmaak was my werk.  Vullisdromme op die straat sit was my werk.  As ek mooi dink, kan ek nie dink wat ek NIE gedoen het nie.  Die swembad moes ek skoonmaak, onderhou.  Die honde moes ek bad.  Die kinders en hy het gekyk wat ek doen!!

Nee wat.  Hierdie aspoestertjie gaan nou vir haar ‘n prins soek.  Wat gaan van hom word?  Maar gelukkig is dit nie my probleem.  Hy moet self regkom.  Hy slaap in ‘n ander kamer, wanneer hy soggens werk toe ry, sit hy nie eens die kamer se lig af nie.  Hy maak nie die bed op nie.  Die kamer vrot na rook.  Ek moet die lig afsit, maar weier om die bed op te maak.  Daar waar hy sy klere uittrek daar los hy dit.  Sy vuil onderbroeke word in my badkamer gelos na hy gestort het en ek moet dit dan in die wasgoedmandjie gaan gooi.  Dan vra mense nog vir my hoekom wil ek skei? 

Nou voel ek sommer beter

Lekker dag

1 comment Maart 27, 2008

NOU IS DIE EGSKEIDING ONAFWENDBAAR

Vanoggend voel ek hartseer, maar ook verlig.  Ek en my man het besluit ons gaan maar nou skei.  Ons kan net nie meer saam woon nie.  Sy mishandeling word erger en die vermoeë om my lief te hê en te beskerm word by die minuut minder.  Ek sien nie meer kans om langer my geluk bo ander s’n te stel nie.

 Ek is afgekraak en my lewe is vir my gereël vandat ek my verstand gekry het.  Eers was dit my ma en suster en toe my man.  Hierdie situasie het nou uiters onuithoudbaar geword.

Vrydag aand het my Middelste dogter weer vir my vertel ek kan nie vir my kinders sorg nie en toe ek haar ‘n pakslae wou gee omdat sy so ombeskof met my is toe skop sy my tussen my bene dat ek krul van die pyn en dit nou potblou is.  Hy het my gevloek en gesê ek moet ophou om met die kinders moeilikheid te soek en nie by hom kom kla nie.  By daardie tyd was hy ook al redelik gedrink.  Dit was vir my die laaste strooi op die kameel se rug. 

Ek het die afgelope tyd 8 kilogram verloor, my mooi gemaak, my mooi aangetrek en alles moontlik gedoen om sy aandag te trek, maar die beledigings en vals aantuigings was al wat my beloning was.  Ek het totaal nou my menswaardigheid verloor en moet nou weer van voor af begin om dit op tebou so ook my selfbeeld.

Miskien is dit nou ‘n nuwe “journey”, maar aanpak sal ek hom aanpak.  En oorwin sal ek dit oorwin.  Ek is klaar met mense wat my onder kry en dan op my trap.

BID ASSEBLIEF VIR MY

Baie dankie

Louise

2 Kommentaar Maart 17, 2008

DIE OUDSTE IS OPPAD

Ja die oudste is oppad!  Ons ry Saterdag oggend Plet toe om haar te gaan wegbring.  Die lys wat moet ingepak word is so lank soos my arm!  Ek moet net alles voorsien.  Sjoe my beursie wil nie meer nie!  Ek kan sien sy raak hartseer om te gaan, maar dit was haar keuse.  Sy was die een wat gese het sy wil so ver as moontlik van die huis af kom nadat sy geleer het!  Nou sing sy ‘n ander deuntjie!!

Sy moet nou haar eie kos maak party dae, self wasgoed was en self haar finansies bestuur.  Sal sy nou dalk agterkom wat haar ma alles vir haar gedoen en beteken het?  Sy was self een wat net altyd vir my kon afkraag en seer maak. 

Ek hoop maar net sy hou uit.  Want sodra dinge moeilik raak is daar net een mens wat sy bel en dit is Ma.  Dan moet ek altyd die kole uit die vuur krap.  Hierdie keer moet sy maar net aanhou.  Ek gaan maar net dowe oor gooi, so moeilik soos dit ook nou mag wees, maar ‘n mens moet party maal hard wees met hulle om vir hulle te leer.

Pa is min gepla.  Solank hy nie hoef te spandeer nie, is hy gelukkig.  Ek hardloop my morsdood om alles reg te kry en dan het hy nog die vermetelheid om ombeskof met my te wees as ek die kar vat om haar rond te kry. 

Baie liefde

Louise 

1 comment Februarie 27, 2008

Kinders word minder, die liefde ai, ai

Vanoggend hang my lang tong op die grond.  Ek is so hartseer oor daardie man van my.  Ek het alles – alles in my vermoë gedoen om net aan hom te raak, drukkies te gee, liefde te gee, sy oë probeer oopmaak sodat hy my kan raaksien, maar niks!!!  Niks totaal en al nie.  Hy stoot my liewers weg.  Ek voel al so moedeloos, want hoekom moet ek van my kant af alles probeer en hy wil nie eens amper probeer nie.  Vir berading weier hy om te gaan.  So ek sit in ‘n doodloopstraat.

 My oudste meisiekind Marguerite het vanoggend half vyf van die bus afgeklim.  Sy was vir ‘n werksonderhoud in Plettenbergbaai by Plettenbergbaai hotel.  Dit het wonderlik gegaan en die hoof van die salon was mal oor haar.  Die massages en facials wat sy gedoen het op die mense het uitstekend afgeloop.  Sy is baie opgewonde.  Die pakket is baie goed, want sy kry ‘n gemeubileerde woonstel, 2 etes per dag en haar uniform.  20% kommissie op alle treatments en verkope saam met haar basiese salaris van R3 000.

My dieet hou!!! Ek het al 5 kg verloor en kan duidelik sien hoe maer ek word.  Ek is verskriklik – verskriklik trots op myself.  Ek word net al hoe meer gemotiveerd om nog aan te gaan!!

Die middelste meisie Adele het my Vrydag so geskop teen my been dat dit nou nog seer en blou is.  Ek weet nie meer wat om met haar te doen nie.  Sy was ombeskof met my en ek wou haar net een harde klap gee, toe ruk sy terug en ek slaan haar op haar skouer.  Toe hak sy af en skop my.  Daarna sê het sy voor haar pa vir my gesê as sy 21 jaar oud is sal sy my deur my bek klap.  Ek dink sy is verskriklik ongemanierd en haar pa sien dit nie raak, want hy beskerm haar elke keer.

Nou ja klaar gekla.  Sal maar moet uithou en bekhou

4 Kommentaar Februarie 18, 2008

MOET NET UITWERK

Eerstens dankie aan almal wat vir my raad gegee het.  Ek het geluister.

Gisteraand het ek en hy gaan sit en praat.  Dit was regtig intens.  Hy het my met soveel liefde vasgehou.  Ek dink daar is tog hoop.  Ai.  Dit is erg.  Erg!!! My oe is dik gehuil vanoggend.

Hier uit hierdie gemors moet ek opstaan.  Ek wil hier opstaan!!! 

Sy gevoel is dat hy voel minderwaardig omdat hy nie vir ons gesin goed genoeg kan sorg nie en dat hy nie vir ons alles kan gee wat ons wil he nie.  Dit is baie hartseer.  Hy het gisteraand ook ‘n traan gestort en ek het hom regtig jammer gekry.

Vir my is dit so belangrik dat hy my moet liefde en aandag gee, dat ek die swaarkry sal verduur net om liefde te ontvang!!

Watter kant toe moet ‘n mens gaan?  Ek weet nie meer so lekker nie.

Louise 

4 Kommentaar Februarie 6, 2008

Ja, ek is ook in ‘n huwelik waar ek emosioneel mishandel word

Al hierdie tye het ek maar stil gebly, want dit is nie iets waaroor ‘n mens praat nie, maar vandag voel ek bly dat ek ook dit gesê het dat my man (en soms my kinders) my emosioneel mishandel.  Uit sy mond kom daar nooit ‘n mooi of goeie woord vir my nie, altyd net hoe verkeerd ek is en hoe common en sonder karakter ek is.  Dit maak baie baie seer, en voel ek ook so nikswerd partydae. Hy staan ook heeltemal koud teenoor liefde.  Van drukkies en soentjies is daar geen sprake nie.  Die afgelope 20 jaar leef ek al in hierdie liefdelose emosionele mishandelde huwelik. 

Nou… kom die ergste … daar is iemand wat my op sy hande dra.  Wat my soos ‘n prinses laat voel.  Ek en hy het 27 jaar gelede uitgegaan, maar my ouers het nie die verhouding goed gekeur nie, en toe my man op die toneel verskyn, het hulle dadelik vir my in hierdie huwelik in gedruk.  Maar nooit het ek die liefde van my lewe vergeet nie, en ook het die liefde van my lewe my ook nie vergeet nie.  Vrydagaand het hy my vertel dat net God my liewer het as hy.  Die probleem is hy is ook getroud met 2 kinders. 

Finansieel kan ek nie van my man skei nie, want ek sal nooit as te nimmer op my eie kan regkom nie.  Dit besef hy ook.  Ek het ook te veel in hierdie huishouding ingesit en kannie dit verloor nie, want hy het dit duidelik gestel, ek sal niks kry uit die huis.

Wat moet ek tog doen???   

10 Kommentaar Februarie 4, 2008

Ek weet nou nie wat aangaan

Kyk dis nou ‘n deurmekaarspil hierdie.  Elke blog is nou ander hier by my.  Maar elke geval, skryf sal ek skryf!!

Vanoggend is ek wragtie so lighoofdig dat ek nie eens ‘n tree voor die ander kan gee  nie.  My suiker, deur my ma getoets, is 11.4!!  Ek het my boeglam geskrik!!  Ek sal seker nou die suiker moet uitsny.   Maar ai dis so moeilik!!  Veral nou dat dit so warm is, drink ‘n mens mos meer koeldrank, so ek sal moet begin kyk na hierdie lyf!!

 Water drink is nou my voorland!  Yeg!!, maar sal seker gewoond raak daaraan!

Ai, die finansies trek tog so swaar.  Wonder net wanneer gaan ons ooit weer bo uitkom?  Alles gaan maar net in rekeninge betaal en skoolgeld.  Die kosgeld moet maar altyd tot die minimum beperk word!!  Maar ons hou vol, en ons hou uit.  Dank die Here vir sy groot genade, wat ons elke dag deurdra.

Nou ja ek sal weer more iets te sê he!!

O ja,  Steve bly maar die beste vir my.  Al sê mense wat – ek sal by hom staan en altyd sy musiek geniet en nog altyd vir hom skreeu!!

Baie liefde

Louise

Add a comment Januarie 30, 2008

Ek is wragtie terug!!!

Ja, na baie gesukkel is die blog nou weer reg!  Ai, ek vergeet soms so baie dinge.  Veral hierdie nuwe tegnologie – dit gooi hierdie ou kop heeltemal deurmekaar – soos suduko!!!  Kan nie kop of stert uitmaak van daai syfertjies nie.

 Dit is ‘n nuwe jaar en hy is amper al ‘n maand oud!!  Die kinders is weer in die skool, manlief werk weer en ook ek.  Nou is dit weer net skouer aan die wiel sit tot dit weer Desember is.

My oudste, Marguerite, soek nog werk.  Sy wil vreeslik graag oorsee gaan, maar die agente is so stadig en rig niks uit. Intussen het sy darem tydelik werk. Adele is vanjaar matriek en Pia stander 8.  So nou begin hulle groot word.

My ma is in die ouetehuis.  Ek het my rug omtrent seer gemaak, en nou sit ek met ‘n been wat dag en nag pyn.  Is te bang om dokter toe te gaan, want ‘n operasie is my voorland. En ek kan nie vir 6 weke af siek gaan nie.

Met ons finansies gaan dit so so.  Eendag op en die ander dag af, maar deur die genade van God, is daar altyd ‘n uitkoms.  Die twee kinders wat in die skool is, het ‘n groot hap uit ons finansies hierdie maand geruk, maar nou weet ek ten minste hulle het alles wat hulle nodig het vir die skool. 

En verder braai ons net hier in die Paarl.  So lank laas ‘n wolk gesien, dat ek dink ek sal skrik as ek een sien!!!  Ek is mos maar ‘n winter mens, hierdie hitte kan ek nie hanteer nie.  ‘n Mens kan jou mos lekker baie warm aantrek in die winter, maar jy kan nie kaal loop in die somer nie!!

Liefde

Louise

Add a comment Januarie 29, 2008

lourense-100.jpg

Marguerite en die boyfriend op hulle afskeid by die instituut

Add a comment November 1, 2007

DAAR IS ‘N BERG VAN MY SKOUERS AF

More almal

Ja daar is ‘n berg van my skouers af.  Ons kon weer gaan kos koop en rekeninge betaal.  Dit was ‘n wonderlike gevoel!  Het tot ‘n chocolate ook gekry!  Smaaklik.

My oudste dogter Marguerite kry die 10de Desember graad.  Ons is so trots op haar.  Die geleentheid word gehou by die Laborie Restaurant in die Paarl.  More gaan ons haar Stellenbosch toe neem sodat sy vir ‘n onderhoud kan gaan.  Sy is een van 5 van die studente wat gekies is om Scheycell (verskoon spelling) eilande toe te gaan om daar te gaan werk.  Sy is baie opgewonde en hoop sy sal die onderhoud slaag.  Dit is net vir 6 maande, maar dit is goeie ondervinding.  Die boyfriend wil nie he sy moet gaan, maar sy is vasbeslote om te gaan.  Sy redenasie is dat hy nie vir haar gaan wag nie.  Dan is hy nie lief vir haar nie, het ek haar gisteraand gesê. 

Nou ja die masels, brongitus en maagvirus is nou verby, so nou is die siektes hopenlik weg!

Julle moet ‘n feestelike dag he.

Al my liefde en Gods rykste seën word julle toegewens

Liefde Louise

1 comment November 1, 2007

Bladsye

Kategorieë

Skakels

Meta

Kalender

Julie 2017
M D W T V S S
« Mar    
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Most Recent Posts